Voet Van Afrika

Die geskiedenis

van "die voet"

Die geskiedenis van “Die Voet”

Dit was seker net mooi twintig jaar gelede, dat ‘n onderwyser van Bredasdorp, Eps Joubert, een middag vir ons by Die Burger kom kuier het en opgewonde vertel het van sy droom van ‘n unieke wedloop. 

Die atlete sou met ‘n veldpad hardloop oor ‘n berg. Dit sou die suidelikste marathon in Afrika wees, maar die ding waaroor Eps nou eintlik uitasem geraak het, was die pragtige heide en veldblomme wat op die roete bewonder sou kon word.

Van ons ouer hardlopers sal nog onthou dat ons maar ‘n klein bende was wat in die jare sestig deelgeneem het. In die jare sewentig het ‘n groot opbloei plaasgevind en ‘n behoefte aan meer wedlope – en so het die Voet van Afrika ook sy plek op ons hardloopkalender gekry.

Ons het uit die staanspoor Eps se opgewondenheid gedeel oor sy marathon en dit goeie publisiteit gegee. Dat so baie sou kans sien om hom jaarliks aan te durf, het ons egter nie verwag nie.

Die Matie Stephen Donald het in 1978 die eerste oortog gelei vir ‘n wentyd van 2:43:20 en die ys was gebreek. Maar Eps Joubert was nie ‘n tevrede man nie – hy wou hê die land se beste langasems moes elke jaar op Bredasdorp kom hardloop.

Die atlete het ook gekom. Johannes Thobejane het in 1979 gewen en Vincent Rakabaele was ‘n jaar later daar vir ‘n merkwaardige deurbraak met sy wentyd van 2:29:14.

Dit het ‘n groot uitdaging geword om hierdie moeilike wedloop in minder as 2 uur 30 minute te kon kon aflê. Sommige jare het dit kwaai gereën en moes die eerste helfte in moddertoestande afgelê word.

Jou passkatting moes reg wees. Die eerste helfte moes vinnig genoeg teen die berg uit voltooi word, maar daar moes genoeg krag wees om te versnel met die afdraande na Napier.

Dan volg die Ruensveld se golwende landskap en bulte wat jou laaste energie begin tap. Die waterpunte is altyd goed beman met entoesiastiese helpers en op hierdie roete druk hulle sommer maklik ‘n sjokolade in jou hand vir ‘n ekstra bietjie energie.

In Napier heers ook ‘n karnavalatmosfeer. Vrolike musiek dreun ‘n paar oomblikke in jou ore en die reuk van worsrolletjies kan jou dalk tweekeer laat dink om die wedloop te voltooi.

Met Napier agter die rug, is dit net weer jy en jou teenstanders. Die skape wat die gedoente op ‘n afstand dophou of die pragtige kraanvoëls wat hier in die veld stap, is ‘n bietjie buite die gesigsveld wanneer ‘n mens begin konsentreer op die teerpad om die laaste paar kilometer te probeer korter maak.

Op warm dae is dit hierdie lang bulte van Napier terug na Bredasdorp waar die atlete moet vasbyt.

Rakabaele het in bergwêreld grootgeword en in 1982 en 1983 ook seges behaal voordat hy na Moskou is om Lesotho in die Olimpiese marathon te verteenwoordig.

Ben Choeu het in 1985 na aan 2:30:00 gedraai, maar ‘n jaar later was Siphewe Gqele daar om die rekord tot 2:28:31 te verbeter.

Net in 1988 is die besoekende atlete se oorheersing onderbreek toe Errol Green van Celtic Harriers in 2:35:00 gewen het.

Die Ikey Charlotte Noble was in 1989 die eerste vrou in 3:23:15 en het toe al die grondslag begin lê vir haar puik debuut in vanjaar se Comrades marathon waarin sy vyfde was en die eerste Suid-Afrikaner.

Vanjaar se wenner van die Comrades, Charl Mattheus, het in 1990 en 2:32:00 gewen. Ná Mattheus het Elias Stemmer die wedloop oorheers met oorwinnings in 1991, 1992, 1993 en 1994.

Dit het ‘n groot hardloper gekos om Stemmer se heerskappy te beëindig. Josiah Thugwane het met sy merkwaardige rekord van 2:26:39 in 1995 ook getoon hy is ‘n man wat hou van opdraandes. ‘n Jaar later het hy sy roemryke sege in die Olimpiese marathon in Atlanta behaal.

Thugwane se rekord sal nie maklik oortref word nie. Ook nie Frith van der Merwe se rekord van 1:11:42 wat sy in 1990 in die jaarlikse halfmarathon behaal het, wat terselfdertyd beslis word.

‘n Mens wonder ook hoe gou die eerste vrou hierdie wedloop vinnniger as 3 uur kan aflê. Karen Bradford van Celtics het verlede jaar die Voet in 3:07:00 gewen vir ‘n rekord en dit gaan dalk ‘n Elana Meyer kos vir ‘n groot deurbraak.

Meyer het as bloedjong skoolmeisie die halfmarathon kom hardloop, maar is gediskwalifiseer omdat sy te jonk was. Sy sou later haar merk maak in die beroemde Boston marathon en op die Olimpiese Spele van 1992 in Barcelona.

Al die genoemde atlete het gehelp om die Voet van Afrika meer as net ‘n gewone wedloop te maak. Dit is egter sy unieke roete deur die veld, die mooi natuurskoon, die kameraderie tussen die deelnemers en die gasvryheid van die inwoners van Bredasdorp en Napier wat jaarliks duisende trek.

Sien jou by die volgende Voet Van Afrika!

Eben Human – Die Burger

Share This