Begin van 'n
"Wonder"-roete
Begin van ‘n “Wonder”-Roete

MIN MENSE weet dit, maar Hermanus het nogal ‘n rol gespeel in die ontstaan van ons nou reeds beroemde Voet van Afrika-marathon.
Sien, ek het sommer so vir die pret saam met atlete van die Hoërskool Bredasdorp aan ‘n veldwedloop op Hermanus deelgeneem. Ná hierdie wedloop het die roete, ‘n voetpad deur die natuurreservaat bo teen die berg langs, my voortdurend bygebly.
Dit was die begin.
Visie van 'n marathon teen 'n berg uit...
Ek het ‘n visie begin kry van ‘n marathon op Bredasdorp waar die atlete teen die berg en selfs óór die berg, as dit dan móés, sou hardloop. Dit was vir my net logies dat dit vir ‘n stadsmens ‘n heerlike afwisseling en avontuur behoort te wees.
Roete
Toe ek boonop op TV die veldloop teen die berg by Harrismith sien, het ek geweet: my droom is nie te vergesog nie. Ek moes net die roete kry. En toe ek uiteindelik ‘n verflenterde, verwaarloosde, onrybare pad uit Jan van Riebeeck se dae oor die berg kry, was die koeël deur die kerk. Ek hét my roete!
Ek kon begin organiseer op Bredasdorp, waar weinig mense ek ingesluit seker nog ‘n werklike marathon gesien het.
Henry Ford het glo ‘n beleid gehad om nie deskundiges in diens te neem nie, want hulle wéét glo sommer dadelik wanneer ‘n taak onmoontlik is. Hy neem liewer ‘beginners’ in diens wat nie weet nie, tog maar probéér en uiteindelik soms tog slaag. As ek vandag se kennis toe moes gehad het, sou ek sekerlik ook dadelik gesê het dat dit wat ek wou aanpak, heeltemal onmoontlik is.
Gelukkig was ek toe baie, baie onnosel!
Stigting
Ek het kennisgewings uitgestuur om mense wat belangstel, uit te nooi om bymekaar te kom om ‘n drafklub te stig. Verbasend baie belangstellendes het opgedaag en die Bredasdorpse Amateur-
Atletiekklub is op 19 September 1977 gebore. Die bestuur wat die aand gekies is, is seker enig in sy soort, want nou, na tien jaar, dien almal van hulle met uitsondering van ‘n paar wat die dorp verlaat het, steeds.
Die eerste bestuur was: Eps Joubert, Smiley Cronjé, Coreen Swart, Piet Smit, Johan Bronkhorst, Ferdie Spamer, Imme van Deventer en Anthony Gregorofski.
Hoewel die vernaamste rede vir die stigting van die klub, uit my oogpunt, die aanbied van ‘n marathon was, was die genot om met mekaar saam te draf vir almal ‘n heerlike ontspanning en ‘n baie goeie samebindende faktor – ‘n inspirasie om te help met die marathon.
Een van die talle groot probleme aan die begin, was om ‘n skenker te kry vir ‘n geskikte trofee – ‘n trofee wat nog reg sou wees eendag as daar dalk ‘n duisend of so atlete sou deelneem. Hier het mnr Tokkie Carstens, destyds bestuurder: eiendomsdienste van Boland Bank, gelukkig genoeg vertroue in ons gehad om sy invloed by die bank te gebruik vir ons pragtige trofee. Soos met die trofee, wou ek unieke medaljes hé. Dit is toe ontwerp en is seker van die mooiste en mees gesogte in die land. Die Lionsklub van Bredasdorp borg vandag nog die medaljes.
DINGE ONTWIKKEL
Ons apteker, Ruper Mizon, het my die idee gegee om dié naam, ‘Voet van Afrika te gebruik. Ons het toe nou ‘n klub, ‘n roete, ‘n marathon met ‘n naam, ‘n trofee en medaljes gehad. Net die atlete het kortgekom.
Die roete, het ek gevoel, moes hulle lok dit moes ‘n uitdaging wees soos die Comrades. As bonus was daar die landelike omgewing waar die atleet soms oor stroompies moet spring en as dit reën, selfs deur strome moet hardloop; deur proteavlaktes en wuiwende graanlande; deur ‘n dennebos en tussen van die mooiste fynbos in die Overberg deur ‘n ware ‘wonder’-roete omdat die atleet gedurig wonder wat lé om die volgende draai of oor die volgende bult! ‘n Roete, soos een deelnemer dit gestel het, waar feitlik nooit iets anders as op- of afdraend is nie.
"Mense is so gasvry..."
Kaapse atlete het destyds baie graag aan ‘n marathon op Middelpos, naby Calvinia, deelgeneem omdat “die mense daar so gasvry is”. Hulle dans en eet en baljaar op Middelpos, is aan my gesê. Ek het besluit dit is ‘n wenresep en Bredasdorp sal dan maar net so moet uithang!
Talle Pryse
So het ons toe die eerste paar jaar die deelnemers onthaal met ‘n heerlike gratis ete, is daar gedans en het ons selfs die besoekers op ‘n busrit deur die omgewing geneem. Ons was sekerlik die eerste om lotingspryse uit te deel. Die plaaslike sakegemeenskap het so goed gereageer dat elke atleet die eerste paar jaar ‘n prys ontvang het van ‘n sweetpak tot ‘n skaapboud.
Later het die atlete te veel geword, inflasie ook vir ons ingehaal en kon ons nie hiermee volhou nie. Tog het ons nog baie pryse en kry heelwat atlete bv. nog ‘n glasie met ons wapen daarop.
Goeie organisasie was vir my ook van die uiterste belang en volgens terugvoering van talle atlete het ons baie goed daarin geslaag. Ons probeer so goed moontlik omsien na ons atlete.
Daarvan getuig die oorvloedige waterpunte (bv. een elke kilometer oor die laaste 15 km.), die talle toilette, noodhulp, mylpale en sjokolade by die halfpadmerk – om maar ‘n paar te noem.
DIT IS maar een van die talle skilderagtige dele op die Voet van Afrika-roete waar waterstrome, heuwels en panoramiese uitsigte deel uitmaak van die swoeg en sweet.
TERREIN GETOETS... EN 'N MARATHON IS GEBORE!
Hoewel die roete wat ek gekies het, ‘n geslote kring was, het die afstand van 56 km. my bekommer. Ek wou dit laat toets deur gesoute atlete. Toevallig het die ervare Robert Scott op Bredasdorp gekuier. Hy het die roete met gemak afgelê en vir sy moeite het ons hom beloon met ‘n medalje.
Atlete van die W.P. was so entoesiasties dat vyf van hulle aangebied het om ook die roete te kom toets. Só het Karel Leeuwner, Hannes Botes, André Gericke, Harry Smit en die vyfde man wie se naam my nou skandelik ontgaan het, saam met Stoffel Taljaard van Bredasdorp dit toe op 6 Mei 1978 gedoen. Hulle het aanbeveel dat dit verstandig sou wees om dit ‘n standaard marathon te maak.
Opgewonde
Een van hulle skryf later: “Jul gasvryheid het my voete onder my uitgeslaan. Ek weet nie hoe julle enige twyfel oor die komende wedloop kan hê nie…!”
Die beginpunt is toe verskuif tot sowat 12 km. uit die dorp. Om die atlete daar te kry, het ons hulle met oop vragmotors vervoer. Vandag gebruik ons busse, maar al hierdie dinge dra by tot die unieke karakter van die wedloop.
Die eerste marathon is op 21 Oktober 1978 naby Grashoek deur die destydse burgemeester en ons klub se eerste beskermheer, Johnny Wilson, met ‘n haelgeweer afgesit. Altesaam 169 atlete het weggespring. ‘n Uur en ‘n half later het Johnny die eerste amptelike halfmarathon vir vroue in die W.P., teen die berg by Napier laat begin. ‘n Totaal van 21 vroue, van wie 17 aan die Bredasdorpse klub behoort het, het weggespring.
Die langste prysuitdeling In die wêreld!
Die middag ná ete, wat deur die plaaslike Blomskool voorgesit is, vind toe seker die langste prysuitdeling in die wêreld plaas – ‘n volle drie ure! Ons beamptes by die wenpaal was nog so onervare en ons almal het maar gesukkel om dinge uit te sorteer. Boonop het ons ‘n berg van pryse gehad om uit te deel. Ook dit verloop darem deesdae veel gladder.
Om die groot organisasie te behartig, was natuurlik vir ons paar mense onmoontlik. Daarom het ons soveel instansies moontlik betrokke gekry. So bv. speel die plaaslike owerhede, sakegemeenskap, skole, Lions, Rapportryers, Blomskool, Noodhulpliga, Boerevereniging, die drukkery en die laaste tyd ook Krygkor, elk op ‘n georganiseerde wyse ‘n groot rol in die marathon, wat werklik ‘n grootse gemeenskapspoging van Bredasdorp sowel as Napier is.
ONS BORGE
Ons bly ook ons borge – Hansa Pilsener (1979), Toyota (1980), Spar (1981-82), Bredasdorp en Napierse Koöperasie (1983) en Caltex (van 1984 af tot nou) – altyd dankbaar vir hul groot bydrae.
Nadat ek drie jaar lank voor getrek het, het Lionel by my oorgeneem en van 1983 het Alec McDonald die leisels oorgeneem. Intussen, ook, het die aantal atlete toegeneem tot bykans 1 100 verlede jaar… maar ruimte om verder te vertel, ontbreek ongelukkig. En, soos die man gesê het: Die helfte het ek julle nog nie vertel nie!